Die prosa van die twede Afrikaanse beweging | Page 5

Pieter Cornelis Schoonees
die wêreld se beweginge en worstelinge op geestelik gebied, aan die wêreld se vergaderde kennis. Die idee, wat sommige mense nog koester, om van S.A. 'n soort alleenstaande Israel te maak--bang en wars van uitlandse inmenging en invloede--is 'n droombeeld wat met die dag reeds vaer word."[17]
§ 4. Gevaar vir Isolasie.
Ook onder ons kunstenaars is daar wat met bangerige angsvalligheid alle buitelandse invloede van ons wil weer, wat hul krag soek in 'n benoude, stikagtige isolement. Hul hoop om op dié wyse 'n suiwer Afrikaanse kuns te kan opbou, vry van alle basterdelemente. Ons moet maar aansukkel op ons eie doringpaadjie, omdat ons toestande so glad anders is as in die ouere kultuur-lande. Dat hierdie rigting totaal verkeerd is, word al dadelik bewys deur die feit, dat ons beste kunstenaars juis onder die inwerking van buitelandse invloede hul skoonste werk geskep het. Die egte kunstenaar laat hom nie verbaster deur 'n vreemde kultuur nie. Hy ontleen daaraan wat vir die volle ontplooiing van sy gees diensbaar is, en vervorm en verwerk die vreemde bestanddele dan tot 'n suiwer nasionale kunswerk. 'n Volk wat nie sy man kan staan teenoor vreemde invloede nie, gaan te gronde en so ook die kunstenaar. Maar met reg kan ons van hom eis, dat hy ons blik sal verruim en ons in intieme aanraking bring met die kuns ook van ander lande. Isolering op letterkundige gebied sou beteken opdroging, sou aanleiding gee tot 'n eindelose herkouery. Laat ons kunstenaars dus gerus van alle oorde hul gees verryk. As hul mans genoeg is, sal hul selfstandigheid niks daaronder ly nie en ons kuns sy nasionale stempel behou. In elk geval geen Chinese muur rondom Suid-Afrika nie!
§ 5. Kultuur-toestande.
Dit sou seker te optimisties wees om te beweer, dat daar by ons al 'n waaragtige diep-wortelende kultuur is. Maar so 'n kultuur is in elk geval in wording en die kieme van 'n Afrikaanse skilder-, bou-, toon- en beeldhoukuns maak al ons harte bly. Wie dan nog let op die wondere ontluiking van ons letterkunde binne 'n tiental jare weet, dat daar inwendige kragte aan roere is, wat tot die skepping van nog grootser skoonheid sal lei. Ook by ons wag die jeug "het hoofd vol duistere glories en de handen bevend van voorgevoel."[18]
"Het zijn eerst de dichters, die een volk ontdooien. Het zijn de dichters, waar zij muziek gaande maken en gezongen worden; of waar zij, vanaf het tooneel, de groote gevoelens ontboeien; het zijn de dichters, die een volk, aan zichzelf ontdekt, één maken."[19] So het ook ons digters die dinge, wat daar roer en woel in die hart van die nasie, vertolk en die solidariteitsgevoel versterk, terwyl die prosa?ste ons gevoel van nasionale eiewaarde verhoog het deur die skildering van grootse dade uit die wordingstydperk van die volk.
Moeilik is dit om die kulturele lewenshouding te bepaal van 'n volk, wat nog altyd moet stry vir die verowering en behoud van 'n nasionale kultuur. Vas staat egter, dat geskiedkundige en ekonomiese faktore 'n egalige en natuurlike ontwikkeling onmoontlik gemaak het. 'n Groot gedeelte van die volk--miskien kan die werklike toestand benader word deur te sê die helfte--leef nog voort in byna volslae onkunde van die kultuuropenbaring, wat orals om hul opbloei. By so 'n besondere gebeurtenis as 'n Dingaansviering b.v. merk hul wel dat daar 'n roering is, maar die dieper betekenis van die kultuurbeweging bly onbegrepe, omdat hul deur 'n agterlike ontwikkeling die orgaan daarvoor mis.
'n Dikwels oordrewe belangstelling in die efemere politieke kibbelarye is die toppunt van hul geestelike inspanning. So 'n groot persentage agterlikes het natuurlik 'n ingrypende invloed op die letterkunde. Daaraan moet toegeskryf word die sterk didaktiese en moraliserende elemente in ons kuns.
Op die platteland doen die talryke debatsvereniginge veel om meer as een versufte siel, vir wie die lewe nouliks meer dan 'n plantebestaan van dowwe verveling is, op te beur en langsamerhand enige aandeel te laat kry in die intellektuele beweging. Maar hoeveel kosbare energie word nie verspil op debatte van die: "Wat is sterker: vuur of water"-tiepe nie? As 'n mens so maand na maand die notule van baie vereniginge, (gelukkig nie almal nie) deurlees, dan kan jy jou verbaas oor die deurtrapte advokate-listigheid, wat aan een of ander beuselagtige onderwerp bestee word, en die geesdriftige koppigheid waarmee die kwessie eindelik uitgebaklei word. Triomfantelik word dan die uitslag aan die pers meegedeel, asof dit 'n belangrike probleem is, wat nou vergoed opgelos is! Op baie plekke is daar gelukkig mense wat leiding kan gee, en daar bereik die vereniging of lees- en studie-sirkel dan ook sy doel, maar dit is 'n feit dat meer as een persoon, met behulp van 'n bietjie gladheid van tong 'n posiesie inneem, waartoe sy geestelike ontwikkeling hom geen reg gee nie. Op die manier kry ons kunsdespote in onderbaadjie-sakformaat, wat, ondanks hul
Continue reading on your phone by scaning this QR Code

 / 143
Tip: The current page has been bookmarked automatically. If you wish to continue reading later, just open the Dertz Homepage, and click on the 'continue reading' link at the bottom of the page.