gebeurtenissen voorvallen, zóó buitensporig van karakter, dat men in de nieuwere geschiedenis te nauwernood de wedergade zal vinden."[12] In so 'n woelige tydperk kon die kuns nie opbloei nie. Daar was geen tyd vir rustige besinning nie en die vinnige loop van die gebeurtenisse het alle geleidelike ontwikkeling onmoontlik gemaak. Voeg ons daarby nog die stryd op taalgebied en die gebrekkige eenheidsbesef, dan hoef dit niemand te verbaas nie, dat die kunsontwikkeling gering was, en die Patriotters alleen voortrekkerswerk kon verrig.
Wanneer dan na die oorlog van 1899-1902 die vaste wil van die volk kenbaar word om die stryd vir nasionale selfstandigheid met geestelike wapens voort te set, dan ontbreek die leiers ook nie en word die geskiedenis van die Twede Beweging gekenmerk deur 'n gestadige vooruitgang, wat sedert die laaste jare met verrassend snelle tempo toeneem. Die "nou-rym-ons-lekker"-periode[13], waarin iedereen, van Generaal Joubert af tot die skaapwagtertjie in die veld versies inmekaar gedraai het, was verby en al dadelik word op die ernstige strewe van die Twede Beweging nadruk gelê. In 1906 sê Preller al: "Afrikaans het tot hiertoe groteliks gedien als 'n soort van trog, om al die o'erloop vulgariteit van die nasie op te vang";[14] en Jan Celliers verklaar in sy brosjure, Doel van Ons Tydskrif: "As ons let op wat in hoofsaak tot nog toe gelewer is in die Afrikaanse taal ... dan kan dit ons nie verwonder nie as baie mense dink: die Afrikaanse taal is nou net geskik om mekaar grappies te vertel en mekaar lekker te laat lag. Alhoewel erken moet word dat sommige van die grappies en grappige versies goeie werk is, is dit ons tog duidelik dat van die Afrikaanse taal meer ge-eis word.... Omdat toevallig die vrolike kant van ons geaardheid sig die sterkste geopenbaar het in ons letterkunde, moet dit die vat-plek wees vir ons om die Afrikaner te vang, moet dit die aanknopingspunt wees _om hom in te lei tot ho?re dinge_."[15]
§ 3. Die Twede Beweging veel meer dan Taalbeweging.
In die eerste jare neem die taalkwessie alle aandag in beslag, maar al gou blyk dat die Twede Beweging, nog veel meer as die van Die Patriot nie uitsluitend 'n taalbeweging is nie. Generaal Hertzog begroet _Die Brandwag_ as volg in die eerste nommer: "Het Afrikaanse volk ontwaakt tot het gevoel van mannelik eigen kracht, eigen waarde en zelfrespekt, verlangt zichzelf te zijn.... Te lang reeds is 't volk begocheld geworden door de luister van vreemde reklame en bedrogen geworden door 't hooghartige ener aangematigde uitheemse meerderheid. Evenals op industrieel en maatschappelik gebied, zo ook op intellektueel gebied willen wij onszelven zijn. Wij willen zijn zoals wij zijn en niet zoals anderen zijn...." En al gaandeweg groei die besef, dat die grondslag van alle beskawing is die ontwikkeling van die hele volk volgens die noodwendigheid van sy eie siel en sy eie geaardheid. "Ons praat vandag van 'n Afrikaanse volk en ons werk vir 'n Afrikaanse toekoms. Ons min ons eie land, en ons stry vir die erkenning van ons eie taal. Ons begin waarde te heg aan die erfenis wat die vadere aan ons nagelaat het en ons raak gesteld op dié sake wat ons as 'n volk van ander volke onderskei.... Die skokkende gebeurtenisse van die laaste twintig jare het baie Afrikaners wakker geskud. Hul het begin besef dat hul lede is van 'n Afrikaanse volk--'n volk met eie tradiesies en sedes en gewoontes, 'n eie taal en 'n eie roeping onder die volke van die aarde."[16]
Die bedrywigheid van die laaste jare is van veelsydige geaardheid. Daar word nie uitsluitend gestreef na politieke mag nie, maar ook pogings aangewend om op ekonomies gebied onafhanklik te word. 'n Teken van die kulturele manbaarwording van die volk is dit ook, dat met liefdevolle ywer gewerk word om die geestelike erfgoedere van die voorvaders teen verwaarlosing en verbastering te beskerm. Op kultuurgebied is die leuse orals: "oneigene, ik late u, ... gaat reizen!" Die laaste boodskap van President Kruger, waarin hy die volk aanspoor om uit die verlede te neem wat goed is en daarop voort te bou vir die toekoms het in goeie aarde geval. 'n Eensydige betragting van die mooi leuse lewer egter groot gevaar op. Die strewe na 'n eg-Afrikaanse kultuur mag nie lei tot 'n skrikkerige afwering van alle vreemde invloede nie. Geskiedenis beteken juis verandering, en as ons vandag probeer om 'n beskawing te ontwikkel uitsluitend uit wat ons as goed Afrikaans in die verlede voorkom, dan moet dit op mislukking uitloop. Hoe hoog ons ook al die tradiesies van die voorgeslag skat, ons moet nie vergeet nie, dat ons tans voor ander probleme as ons voorvaders staan. Jan Celliers het in 1913 al gewys op die onmoontlikheid van isolasie: "Die dag sal nog kom dat Suid-Afrika net soos enige beskaafde land gelyk-op sal deelneem aan

Continue reading on your phone by scaning this QR Code
Tip: The current page has been bookmarked automatically. If you wish to continue reading later, just open the
Dertz Homepage, and click on the 'continue reading' link at the bottom of the page.